Arende in nuwe vere uitgedos
Die SWD Arende se nuwe uitrusting is pas aan die publiek bekend gestel. Die nuwe uitrusting word gekenmerk deur ‘n moderne nuwe ontwerp en ‘n opwindende nuwe kleurkombinasie.
Vars lemmetjiegroen word saam met die tradisionele donkergroen en wit gebruik. “Die vars nuwe kleur simboliseer die vernuwing wat die SWD Arende ondergaan,” sê afrigter Johan Lerm.
Twee verskillende truie sal gebruik word vir tuis- en wegwedstryde. Die trui wat vir tuiswedstryde gebruik word, is oorwegend lemmetjiegroen en wit met groen aksente. Die trui wat vir weg-wedstryde gebruik word is oorwegend donkergroen en wit met lemmetjiegroen aksente.
Lerm wys daarop dat die Arende die enigste unie in die land is wie se trui die donkergroen van die Springboktrui weerspieël. “Ons het ‘n trotste geskiedenis van Springbokke wat uit ons klein landelike unie kom, en die donkergroen simboliseer die SWD Arende se vertroue in hul Godgegewe talent en hul afrigters se vermoë om hulle tot groot hoogtes te neem. Ons streef na uitmuntendheid."
Foto: Hans van Dyk (onderkaptein) en Wilhelm Koch (kaptein) vertoon trots die nuwe rugbytruie. Hans dra die hemp wat tydens tuiswedstryde gedra sal word, en Wilhelm die wegwedstryd-trui.
“ Die SWD se nuwe ABSA Curriebeker truie word hier aan die media bekendgestel. Links staan onderkaptein Hans van dyk met die lemmetjiegroen ‘weg’ trui en regs kaptein Wilhelm Koch, met die ‘tuis’ trui.”
